“Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28).
Een van die mooiste definisies van geloof is deur die ou kerkvader Martin Luther geskep.
Hy noem geloof “getrooste twyfel”.
Sjoe, wat ʼn diepsinnige gedagte! Wat ʼn eerlike insig! Want geloof is inderdaad altyd broos, ʼn soort hoop of vertroue wat dikwels tot diepgaande twyfel, onsekerheid en selfs wanhoop geskok en ontnugter word.
Sint Johannes van die Kruis praat in dié verband selfs van die donker, uitsiglose kant van geloof. Dit is wanneer alles op ʼn dag vir die gelowige nag word.
Tog troon daar bo-oor hierdie geskokte twyfel en onsekerheid altyd die belofte uit dat wie hulle skok en twyfel op Christus werp en wie hulle sorge na Hom bring nooit beskaam sal staan nie, maar by Hom tot rus sal kom. En dat wie afhanklik van God bly, deel aan sy koninkryk sal kry. Net soos hulle wat vandag huil en hulle harte voor God uitstort op sy troos kan reken.
Een kerkvader het dié troos soos volg beskryf: “Dit maak nie saak hoe ver ons val nie – ons kan nie dieper as tot in God se hande val nie.”
Inderdaad, getrooste twyfel!
Here, U ken ons angs en twyfel. Om dit te weet is vandag genoeg. Dit troos ons. Dankie! Amen.
Carel Anthonissen