Maar wat eers vir my ʼn bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus (Filippense 3:7).
Ek het ʼn vriend wat op sy dag ʼn dosent aan ʼn belangrike universiteit was.
Verlede jaar het hy saam met my op ʼn reis na die buiteland gegaan. Toe ons die nodige reisdokumente invul, doen ek versigtig navraag oor sy titel en hoe ek dit op die vorm moet invul.
Wat ʼn verrassing was sy antwoord! “Asseblief, tog nié doktor of professor nie. Daardie fase van my lewe lê agter my. Vandag is ek net ʼn gewone burger wat afgetree is. ‘Meneer’ sal dus doen.”
Ek was verbaas, want die meeste mense wat ek ken, is nogal gesteld op hulle titels. Hulle sal selfs hulle bors trots daaroor uitstoot. En ander verkwalik as hulle dit vergeet.
Nie my vriend nie. Want sien, hy het met verloop van sy lewe geleer dat sulke statussimbole relatief is. Dat dit by baie mense ʼn ongesonde gevoel van hoogmoed en meerderwaardigheid kan voed. En só afstand tussen hulle en ander mense kan skep.
En dít wou my vriend nie hê nie. Vir hom was dit altyd belangriker om as ʼn gewone mens tussen ander te beweeg en hulle, waar hy kon, nederig te dien, sonder opgeblase trots.
Sy keuse herinner my aan Paulus wat op ʼn dag al sy statussimbole ter wille van sy diens aan Christus prysgegee het.
En daarin ʼn nuwe vryheid gevind het.
Here, leer ons vandag weer u soort nederigheid. Laat ons, terwyl ons nie soek na roem en erkenning nie, ook nie u genadegawes in ons lewe verwaarloos nie. Help ons om bowenal in U te roem. Amen.
Carel Anthonissen