Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Romeine 12:3).
Om weer na die Oscar-toekennings vir uitstaande films en toneelspel te kyk, het my opnuut bewus gemaak van die omvang en gehalte van mense se talent en kreatiwiteit.
Maar ook van die heimlike verlange wat baie van ons in ons omdra om eendag iets besonders te wees of te doen, om selfs bekend en beroemd te word. Of dan net in eie reg erken en gewaardeer te word.
Hiervoor is dit natuurlik belangrik dat ons onsself goed sal leer ken. En belangriker nog: dat ons binne die grense van ons bestaansmoontlikhede sal leer leef. Want behalwe dat ons onder peil kan leef en daarom nie ons Godgewe lig voluit laat skyn nie, is daar ook ʼn ander gevaar. Dit is dat ons onsself sal oorskat en bokant ons vermoëns sal probeer leef of presteer.
En dit kan ons as diep teleurgestelde en ontnugterde mense laat eindig.
In Romeine 12:3 gee Paulus vir ons goeie raad hieroor. Hy vermaan ons allereers om beskeie te wees en nie meer van onsself te dink as wat ons behoort te dink nie. Maar hy herinner ons ook dat elke mens sy of haar eie gawes en geleenthede en selfs ʼn eie uitgemete stuk geloof het. En dat ons daaraan getrou moet bly.
Kortom, dit gaan om ʼn skatting van onsself wat realisties, gebalanseerd en gesond is.
Here, gee ons vandag die selfkennis wat ons sal help om nie bokant óf onderkant ons Godgegewe vermoëns en roeping te leef nie. Amen.
Carel Anthonissen