Elisa het ʼn boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.” Naäman het vererg weggery (2 Konings 5:10-11).
Iets van Naäman – die melaatse leërhoof wat homself te belangrik geag het om hom volgens die raad van ʼn eenvoudige profeet in die Jordaan te gaan was om gesond te word (2 Konings 5:1-27) – skuil in ons almal.
Dit is daardie neiging om, wanneer ons moet kies tussen ʼn pad van gerief, aansien en bewondering en ʼn pad van eenvoud en opoffering, eerder eergenoemde pad te kies. En dit terwyl ons diep binne-in ons weet die tweede pad is belangriker en meer helend as die eerste pad.
Onlangs het ek hierdie konflik weer persoonlik ervaar toe ʼn ou vriend van my wat jare lank ʼn gemeente in ʼn swart woongebied bedien het, my na sy afskeidsgeleentheid in Khayalitsha nooi.
Aangesien ek hom destyds in die amp help bevestig het, was dit ʼn geleentheid wat ek nie kon misloop nie. Tog, toe die tyd aanbreek, het ek ʼn Naäman-keuse gemaak, vir my eie gerief.
Aanvanklik het my verskonings selfs vir my nie te sleg geklink nie: my kinders van oorsee kuier hier; ek herstel van ʼn siekte; ek het ʼn oorvol naweek. Maar agterna het ek geweet: Dit was ʼn fout; dié dobbel met ʼn vriendskap; ʼn halfwas keuse wat die gesindheid van Christus verloën het. Ek sou die heling en seën wat so ʼn geleentheid vir my sou kon bied, misloop.
Hoe groot dié verlies werklik is, sal ek hierdie week ontdek wanneer ek my vriend bel.
Here, ons keuses verraai dikwels hoe sku ons vir u pad van nederige selfopoffering is. Here, wees ons genadig! Vergewe ons ons onvergeeflike dade. Amen.
Carel Anthonissen