Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: “En waar is jou God nou?” … Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? (Psalm 42:4, 6).
Om as ʼn moderne mens gebed deel van jou lewensritme te maak en dit boonop vol te hou, bly vir baie mense, ook vir gelowiges, baie moeilik.
Jacques Ellul, die bekende Franse teoloog, het reeds in 1970 hieroor geskryf:
“The man of our time does not know how to pray, but much more than that, he has neither the desire nor the need for prayer. He does not find the deep source of prayer within himself. I am acquainted with this man. I know him well. It is I, myself.”
In sy boek Prayer and modern man wy hy dan ʼn hele hoofstuk aan die redes waarom ons vandag sukkel om te bid. Een van die vernaamste redes is wat hy ons geslote wêreldbeeld noem, meegebring deur die ontdekkings van die wetenskap. Hierdie ontdekkings, waarby die rede die finale arbiter is, laat vandag weinig of geen ruimte vir geloof in enige God of bonatuurlike wese nie. Die gevolg is ʼn ingesteldheid van skeptisisme en ongeloof.
En, soos Ellul tereg skryf: Wat dit aan die Christengelowige doen, is dat ons meer as ooit sukkel om te bid. Want, en ek haal hom aan, ons is “completely imbued by the realism of the spirit of the time”.
Gelukkig is daar ook ʼn hoofstuk in Ellul se boek oor die rede waarom ons kán en móét bid. Daaroor meer in die volgende meditasie.
Here, soos die psalmdigter kerm en kla ons vandag omdat ons nie weet waar U is of hoe om U te bereik nie. Hoor tog ons gekerm. Leer ons om te bid. Amen.
Carel Anthonissen