Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal my eer (Psalm 50:15).
Daar bestaan allerlei mooi definisies van gebed, soos dat dit die eerste impuls van die hart is, of die laaste toevlug van die wil, of die asemhaling van die siel, of selfs God se asem in ons wat deur gebed na sy geboorteplek terugkeer.
Hoewel al hierdie definisies mooi is, beweeg dit nie noodwendig die hedendaagse mens om te bid nie.
Nee, om te bid bly ʼn gawe van God wat ons gedurig in geloof moet ontvang en beoefen. In Karl Barth, die Switserse teoloog, se woorde:
“Gebed is nie iets wat ons kan doen nie. Dit is iets wat in en deur ons gebeur. En dit nie uit eie wil nie, maar omdat God ons as sy kinders aangeneem het. En as ons God se kinders is, mag ons tot God roep. Ja, verwag God dat ons tot Hom sal roep, al is dit alleen by wyse van ʼn klein versugting.”
Jacques Ellul, ʼn Franse teoloog, sluit by Barth aan wanneer hy skryf dat ons vrymoedigheid om te bid juis ons geloof in God as ons sorgende Vader staaf. Meer nog, dit is die eerste konkrete uitdrukking van hierdie geloof.
Wat beteken dat ons traagheid om te bid ʼn teken is dat ons nie meer in God en in God se beloftes glo nie.
Here, wat ʼn wonderlike boodskap dat U ons Vader is en dat ons tot U kan roep. Help ons om dit te glo en leer ons dan hoe om te roep. Amen.
Carel Anthonissen