Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep … Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom (Psalm 130:1-2, 5).
Hoe nou vertroue in God se liefde en voorsiening met gebed saamloop, sien ons duidelik in Psalm 130.
Ons hoor die digter angstig na God roep. En dan, net ʼn entjie verder, hoor ons die rede vir sy hulpgeroep, oftewel, die grond vir sy vrymoedige gebed. Dit is dat hy volledig op God vertrou. Dat hy mettertyd geleer het en dit nou met sekerheid weet: Die Here is getrou en betroubaar in sy liefde vir mense (vers 7).
En dat hy daarom altyd weer, net soos hy is, met al sy verborge verlangens, knellende skuldgevoelens en gloeiende blydskap na God toe kan gaan.
Trouens, by hierdie liefdevolle God, so bely die psalmdigter, is daar altyd vergifnis (vers 4), is die verlossing van die mens verseker (vers 7). Al wat vir die mens oorbly om te doen, is om in dankbare oorgawe daarvoor te bly vra, om aan te hou roep dat God na ons sal luister en ons in sy groot liefde sal bystaan en bly dra.
En om dan rustig te wag (vers 7) omdat ons op God vertrou.
Here, vandag roep ek weer na U omdat ek in U glo; omdat ek vertrou dat U my kan en wil help. Hoor tog my gebed. Kom my ongeloof te hulp. Amen.
Carel Anthonissen