Boodskap vir Vandag

Search

Die kruis as verkwikking

Deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom (Jesaja 53:5).

Nêrens word die gelowige se toenadering tot God in gebed hartroerender vertolk as in Franz Schubert se Duitse mis nie.

Dáár, in die openingslied, ook bekend as die aankoms of die begin (Zum Eingang), hoor ons die gelowige uitroep: “Waarheen sal ek gaan, wanneer woede en smart op my rus? Aan wie vertel ek my verrukking, wanneer my hart met blydskap begin klop?”

En dan kom die vrolike ontdekking, die vrymoedige toenadering: “Tot U, tot U, my Vader, kom ek in vreugde én lyding. U stuur, ja, die vreugde, U heel elke wond.”

Miskien is dit ʼn gebed waarmee ons môre Goeie Vrydag kan begin. Veral omdat die evangelie ons verseker dat die gekruisigde Heer ook óns wonde en smart ken. Meer nog, omdat daar deur sy wonde en smart vir ons genesing gekom het.

Sukkel jy om dit te glo? Gaan luister na hierdie lied. Bid dit saam tot aan die einde waar die gelowige se gebed uiteindelik ʼn jubeling word:

“Gelukkig is ek! Ek is verkwik! Gelukkig is ek! Ek mag nou bly wees, met dank en lofprysing en jubeling my verbly in my God!”

Here, in hierdie tyd waar ons oor u kruisdood nadink, buig ons in dankbare aanbidding voor U omdat ons dít glo: Deur u wonde het daar vir ons genesing gekom. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.