Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Romeine 8:26).
Wanneer ons sukkel om te bid, bly dit belangrik om te onthou dat ons, in die woorde van Monica Furlong, ʼn geestelike skrywer, die meeste van die tyd amateurs is wanneer dit by gebed kom.
Sy gaan selfs verder en skryf: “We have the audacity to suppose that prayer is something we ought to be able to do.”
Daarmee wou sy natuurlik nie ons aandeel in gebed onderspeel nie, maar ons heenwys na die diepste geheim van gebed – dat dit te alle tye ʼn gawe van God bly.
Pragtig skryf Gregorius van Sinai in die vierde eeu hieroor wanneer hy ons troos: “Gebed is God ín ons wat alle dinge in almal se lewe bewerk.” Daarom is gebed niks anders nie as die opbloei en uitblom van God se genade in ons lewe.
Of soos ʼn ander monnik dit gestel het: “Gebed is die vlam of vuur van God se liefde in ons wat ons alleen maar sigbaar kan maak deur te bid.”
Om dít reg te kry vra wel dat ons onsself elke dag in nederige afhanklikheid sal oopstel vir die werk van God se Gees in ons lewe. Terwyl ons terselfdertyd met dankbare verwondering die groter misterie herken – dat die blom, by wyse van spreke, haarself nooit uit eie wil na die son kan keer nie.
Ook dit bly genade.
Here, hoe traag is ek tog soms om te bid. Kom dan nou, Gees van God, bid in en deur my. Dra my versugtinge na God. Amen.
Carel Anthonissen