Soos ʼn wildsbok smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God (Psalm 42:2).
Een van die troosvolste perspektiewe op gebed vind ons in Psalm 42.
Hier hoor ons dat gebed ʼn smagting of ʼn dors na God is – ʼn intense verlange dat God tog weer in ons nag van vertwyfeling en wanhoop sal ingryp en uitkoms sal gee.
Hierdie smagting of verlange word uiteindelik in die digter se mond ʼn gekerm, ʼn rou klag, omdat hy voel dat God hom verlaat het. En nou moet hy alleen die spot van sy vyande verduur.
O, hoe goed ken ons dit nie! Daardie oomblikke wanneer ons lewe in duie stort en die tyd en krag om met groot woorde te bid ons totaal ontbreek. En ons net maar kan kerm, alleen maar wil kla.
Weet dan dat hierdie gekerm dikwels genoeg is. Want wie op dié manier eg na God verlang en dors, bid reeds.
Die onbekende skrywer van The Cloud of Unknowing het in die 14de eeu reeds gelowiges hiertoe aangemoedig toe hy geskryf het: “Pierce that darkness above thee. And smite upon that thick cloud of unknowing with a sharp dart of longing.”
Here, U ken ons diepste dors, ons smagting en versugtinge. Dit is al waarmee ons vandag na U toe kan kom. Dankie dat U daarvoor ook ʼn oor het. Amen.
Carel Anthonissen