Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker (Psalm 130:7).
Tydens ʼn kursus oor gebed waarin die aanbieder praktiese riglyne oor gebed gee, bekla ʼn vrou haar lot.
Sy het vier klein kinders wat soveel sorg en aandag van haar vra dat sy by geen van daardie riglyne kan hou nie. Sy het bloot nie tyd om te bid nie.
Haar opmerking het my laat dink aan die teoloog Bonhoeffer wat in die hitte van die Duitse kerkstryd iets soortgelyks aan sy vriend geskryf het. Oor hoe hy tussen sy vele reise en afsprake net nie tyd kry om te bid nie. Maar dat dit hom nie te veel bekommer nie omdat hy weet: God verstaan.
Ook omdat hy oortuig was dat die tyd vir stilte en vrugbare gebedstye weer sou aanbreek.
Dit is dan ook die troos wat een van die groeplede, wat in ʼn stadium in soortgelyke omstandighede was, aan die vrou gebied het: ʼn Mens moet maar net ontspan en geduld beoefen. Ja, op die Here wag.
Ook dat sy moet weet om jou huishoudelike pligte getrou na te kom ʼn ander vorm van gebed is – een waardeur jy elke dag antwoord op God se roepstem wat jou hele lewe, ook die sorg van jou kinders, omvat.
Here, dankie dat U U steeds met ons bemoei, ook wanneer ons ophou bid, en steeds met ons bly praat. Help ons om gedurig hiervan bewus te bly. Amen.
Carel Anthonissen