Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34).
In sy mooi boek Soul Friend oor geestelike begeleiding in ʼn moderne tyd, skryf Kenneth Leech, die Anglikaanse geestelike, uitvoerig oor die belangrike rol van gebed in ons lewe as gelowiges.
In ʼn hoofstuk oor die praktiese beoefening van ʼn lewe van gebed verwys hy na etlike struikelblokke op dié pad, sondes wat ʼn muur tussen ons en God kan oprig.
Die eerste van hierdie hindernisse of sondes wat hy noem, is ʼn onwilligheid om ander te vergewe.
Vergifnis bly inderdaad altyd ʼn moeilike opdrag, veral wanneer iemand jou kwaadwillig bygekom, verontreg of pyn aangedoen het. En dan nie bereid is om dit te erken of verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar nie.
In sulke oomblikke word ons uitgedaag om, in Christus se woorde, sewentig maal sewe keer te vergewe; dit wil sê, om onophoudelik te vergewe. Ja, om Christus se gebed ons eie te maak: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
So ʼn onvoorwaardelike daad van vergifnis is nooit daarop gemik om die ander te verander nie, alleen maar om aan Christus gehoorsaam te wees. So word dit die hoogste vorm van liefde.
En dit moet deel raak van ons gebede as ons geestelik wil groei.
Here, ons sukkel om te vergewe. Maak tog vandag u gebed om vergifnis ons eie. Amen.
Carel Anthonissen