Gee en vir julle sal gegee word (Lukas 6:38).
Nog ʼn belangrike belemmering of struikelblok vir gelowiges se gebedslewe is gierigheid of hebsug.
Hoe diep sit die verlange om meer te hê, veral wat aardse middele en voorregte betref, nie in ons almal se bloed nie. Soveel te meer wanneer ons ons lewe lank die pyn van armoede moes deurstaan. Dan is die begeerte na meer verstaanbaar, indien nie normaal nie.
Tog skuil daar gevare in hierdie sug na meer. Dit kan ontaard in ʼn lewensingesteldheid van blatante selfsug, een waarin rykdom en bevoorregting jou enigste doelwit word. En hoewel rykdom op sigself nie sleg of verkeerd is nie, lei dit dikwels tot ʼn toestand van onafhanklikheid – een waarin jy nie meer vir God of ander mense nodig het nie.
Woorde soos genade en seën waardeur jy God se hand in jou lewe erken, verdwyn dan makliker uit jou woordeskat. Die gebed: “Gee ons ons daaglikse brood” word oorbodig. Terwyl die nood van ander makliker as ʼn irritasie by jou verbygaan.
As gelowiges is ons nooit vry van dié gevaar nie. Die feit dat ons sukkel om te bid is dikwels ʼn teken dat die kiem van hebsug ook by ons wortelgeskiet het.
God se verlange, daarenteen, is dat ons gedurig die rykdom wat in vrygewigheid opgesluit lê deur onselfsugtige offervaardigheid en diens sal ontdek.
O Here, bewaar ons tog vandag van daardie hebsug wat ons van U vervreem. Amen.
Carel Anthonissen