Maar Maria het buite die graf bly staan en huil (Johannes 20:11).
Die verhaal van Maria Magdalena se dramatiese ontmoeting met die opgestane Jesus bring ons voor ʼn bekende ervaring te staan.
Dit is die rou smart wat mense ervaar wanneer hulle ʼn geliefde deur die dood verloor het.
Maria Magdalena se smart en verwarring in dié verhaal is besonders intens. Buiten dat Jesus gesterf het, het sy liggaam, wat sy vir oulaas wou versorg, ook nog oornag verdwyn. Vir haar was dit die laaste druppel aan die emmer. Sodat haar emosies – soos water oor ʼn stukkende damwal – vrylik begin vloei het. En sy onbedaarlik begin huil het.
Nie almal is gemaklik met smart wat so rou en onbeheersd ten toon gestel word nie. Baie verkies om hulle emosies weg te steek of te onderdruk, deels omdat dit so diep sny. Ook omdat hulle verleë voel daaroor en nie altyd weet hoe om daaraan uitdrukking te gee nie.
Vandag se Skrifgedeelte herinner ons dat dit natuurlik én gesond is om te huil wanneer ʼn geliefde ons ontval. Trouens, tot vier maal duik die woord huil in hierdie gedeelte op.
Asof Johannes wou sê: “Jy mág maar huil. Vrylik, onbedaarlik. Net soos Maria Magdalena.”
Here, leer ons vandag hoe om sinvol uitdrukking te gee aan ons emosies wanneer ons iemand naby aan ons verloor het. Amen.
Carel Anthonissen