Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” (Johannes 20:15).
Maria Magdalena, so lees ons in Johannes 20, huil met reg wanneer haar geliefde Jesus sterf.
So gee sy ook aan ons toestemming om ons emosies van verlies en verlange nie onnodig weg te steek of te onderdruk nie.
Ons mág treur. Ons mág toelaat dat ons emosies vloei wanneer ons swaarkry of ʼn geliefde verloor het.
Tog skuil daar ook ʼn gevaar hierin. Want jy kan, by wyse van spreke, verdrink in jou trane, toelaat dat jou smart jou so oorweldig dat jy jou uitsig en oordeelsvermoë verloor. Ook jou lus om verder te leef.
Dit is in ʼn mate wat met Maria Magdalena gebeur het. Verblind deur haar trane, sien sy nie meer die opgestane Heer by haar staan nie. Die donkerte sak soos ʼn groot kombers oor haar toe.
Natuurlik is ons elkeen se verlies uniek; niemand kan regtig die diepte van ʼn ander se smart peil nie. Nog minder voorskryf hoe hulle moet treur. Tog moet ons waaksaam bly om nie soos Maria Magdalena verblind en verlam te raak deur ons trane en hartseer nie.
Want sien, soos met haar, is Hy wat die dood oorwin het en wat al ons trane sal afvee deur sy Gees altyd naby aan ons.
Hierop kan, ja, moet ons bly vertrou.
Here, vergewe my as ek vasgeval het in my hartseer en vergeet het dat U alle trane sal afvee – én dat U die dood oorwin het. Lei my vandag weer en gee my u troos. Amen.
Carel Anthonissen