Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie” (Johannes 20:17).
Toe Maria Magdalena die opgestane Jesus in haar uur van blydskap en verwarring as “Leermeester” aanspreek, spreek dit van ʼn behoefte om weer by Jesus te leer.
Hierop reageer Jesus dan op twee maniere.
Die eerste is dat Hy haar vra om Hom nie aan te raak of, soos die vertaling lui, vas te hou nie. Hoe graag wou sy dit nie in dié uur doen nie! Om Hom, soos vroeër, by haar te hê. Maar nou moes sy leer dat Jesus nie langer liggaamlik by haar – of by ons – kan wees soos tydens sy aardse omswerwinge nie.
Hy moes eers na sy Vader opvaar. Só sou Hy die weg open vir die Heilige Gees om voortaan bý haar te wees – en by almal wat Hom nodig het. Ja, om selfs by ons as sy volgelinge in te woon sodat Hy op ʼn inniger manier met ons kan saamleef (Johannes 14:23).
Oepke Noordmans, die Nederlandse teoloog, vind in hierdie noodsaaklike afskeid van Jesus die groot rede waarom blydskap in die Paasverhale altyd vermeng bly met gevoelens van onsekerheid, somberheid, hartseer en twyfel.
Daarom moes Jesus hulle voortdurend troos en leer: “Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie … Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe” (14:27-28). Of: “Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie” (16:7).
Wat ʼn blye boodskap, maar ook: Wat ʼn yslike les om te leer!
Here, Gees van God, bly tog vandag by ons en troos ons, veral wanneer ons, soos Maria, daarna verlang om U sigbaar en aanraakbaar by ons te hê. Amen.
Carel Anthonissen