Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: “Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is” (Johannes 20:17).
In die emosionele ontmoeting tussen die opgestane Jesus en Maria Magdalena was daar ook ʼn tweede waarheid of les wat sy moes leer.
Uiteindelik word dié les of waarheid ʼn heerlike opdrag.
Maria moes aan die dissipels gaan vertel dat God, die Vader van Jesus, danksy Jesus se opstanding uit die dood nou ook hulle Vader geword het.
Ondanks die bekende Ons Vader-gebed waarin Jesus sy dissipels geleer het om reeds aan God as hulle Vader te dink, was dit vir hulle as Jode ʼn vreemde en selfs ondenkbare gedagte. Hulle het dit skaars gewaag om God se Naam op hulle lippe te neem.
Dán ontvang hulle die nuus dat Jesus die weg na God gebaan het. Dat alles wat tussen die mens en God kan staan – sonde, skuld, skaamte, dood – met sy opstanding oorwin en verwyder is. Sodat ook hulle nou in en deur Christus God hulle Vader mag noem.
Die wonderlike is dat hierdie belofte vandag ook vir jou geld. Wat beteken: Jy is nie meer ʼn slaaf wat in vrees vir God hoef te leef nie. Almal wat vir Christus volg, is nou kinders, ja, erfgename van God wat vandag steeds met vrymoedigheid deur sy Gees na God mag roep (Romeine 8:15-16).
Byna soos angstige kinders in die nag: “Abba, Vader, Pappa!”
Abba, Vader, Pappa, ons roep vandag opnuut na U. U ken reeds ons verlangens. Hoor tog ons gebede. Amen.
Carel Anthonissen