Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

So verarm ons onsself

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe (Efesiërs 4:32).

Ons mooi land is bekend vir sy vriendelike mense.

Buitelandse besoekers verwys dikwels daarna – hoe hartlik en vriendelik hulle in winkels, hotelle, restaurante, banke en elders ontvang en bedien word.

Dit is nie oral so nie. In baie lande stap jy dikwels teenaan mense verby of sit langs hulle in openbare plekke sonder dat daar enige oogkontak of geselsies is. Mense is dikwels so ingekeer in hulleself of so besig met hulle eie dinge dat jy vir alle praktiese doeleindes nie vir hulle bestaan nie.

Die gevaar dat dieselfde al hoe meer in ons eie konteks kan gebeur, is nie denkbeeldig nie. Vroeër is ek amper deurgaans op straat gegroet wanneer ek verby mense gestap het, maar dit is nie meer vanselfsprekend nie. Hoe dikwels stap ek deesdae téén mense verby, soekend na daardie oogkontak wat ʼn glimlag of spontane groet kan ontlok, sonder dat daar enige reaksie is.

En dit hinder my. Want so gee ons ʼn belangrike waarde prys – een wat direk spruit uit ons Christelike erfenis en wat ons samelewing nog altyd meer wellewend, menslik, oop, vredevol en verdraagsaam gemaak het.

Laat ons daarteen waak om hierdie goeie gewoonte of klein gebaar sommerso prys te gee. Want só verarm ons, dikwels onwetend, ons eie lewe.

Here, Gees van God, gee ons vandag weer die hartlikheid en goedgesindheid teenoor ander waarvan Paulus skryf. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.