Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle (Johannes 20:26).
Die verhaal van die twyfelende Tomas bly om verskillende redes fassinerend en eietyds.
Eerstens roep dit hierdie vraag na vore: Hoe het dit gebeur dat ʼn getroue volgeling van Jesus, soos Tomas, in Hom kon twyfel? En dan meer algemeen gestel: Waar kom twyfel vandaan?
Party mense, so weet ons vandag, is nou maar eenmaal met ʼn kritiese ingesteldheid gebore. Of dalk het hulle daarmee grootgeword. Dit is deel van hulle persoonlikheid, hulle opvoeding, hulle gesindheid teenoor die lewe. Hulle aanvaar nie sommer alles in goeder trou nie. Hulle vra vrae en soek bewyse.
Tomas, so hoor ons in die Johannes-evangelie, was só ʼn mens (Johannes 14:5; 20:25).
Laat ons toegee: Sulke mense kan nogal lastig wees. Hulle kan jou geduld beproef, jou geloof so toets en uitdaag dat dit jou irriteer, jou selfs diep ontstel. Sodat jy verkies om liewer ver van hulle af te bly.
Tog bly dit belangrik dat ons sulke twyfelaars nie sommer sal veroordeel of afskryf nie. Tereg skryf die teoloog Okke Jager: “Ons het sulke mense nodig. Mense wat suinig is met uitroeptekens. En wat ons met hulle vrae dikwels bewaar van ʼn goedkoop en oppervlakkige geloof.”
Boonop help sulke mense jou om die vrae in jou eie gemoed eerliker in die oë te kyk. Om selfs te weet: Jy as gelowige mag maar soms wonder.
Ook twyfel.
Here, help ons vandag opnuut die waarde van gesonde kritiek ontdek. Gee dat dit ons geloof en vertroue in U nie sal ondermyn nie, maar sal versterk en verdiep. Amen.
Carel Anthonissen