Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig” (Johannes 20:27).
Die verhaal oor die ontmoeting tussen Jesus en die twyfelende Tomas bevat groot troos.
Dit help ons onder meer om nie onnodig skuldig of sleg te voel wanneer ons op ʼn dag, soos Tomas, in ons gemoed allerlei twyfelvrae ontdek nie. Gelowiges, so herinner hierdie verhaal ons, is nooit vry van twyfel nie en moet eerlik daaroor wees.
Tog, en hieraan herinner die Bybel ons ook, kan twyfel gevaarlik wees. Want sien, ʼn mens kan vasval in twyfel, selfs daarop verlief raak. En dit dan deel maak van ʼn soektog wat nooit eindig nie. ʼn Soort eerlikheid waarop jy heimlik trots is en wat die kiem van ongeloof in hom omdra.
Die filosoof Lessing het op ʼn keer hieroor gesê: “As God in sy regterhand die waarheid en in sy linkerhand die soeke na die waarheid het, sal ek altyd laasgenoemde kies.”
Natuurlik bly ons ons lewe lank soekers, maar dan soekers wat óók daarop ag sal slaan wanneer die opgestane Jesus vir Tomas sê: “Moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig” (Johannes 20:27).
Daarmee het hy Tomas uitgenooi om in Hóm die waarheid van alles, ook van sy eie lewe, voortdurend te leer ontdek.
Die uitnodiging geld natuurlik vandag ook vir jou.
O Here, as ek eerlik is, moet ek erken dat Tomas se twyfel ook in my leef. Bewaar my daarvan dat dit in ongeloof en onverskilligheid sal oorgaan. Gee my vandag weer die geloof wat U van my vra. Amen.
Carel Anthonissen