Maar hierdie wonderwerke is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Johannes 20:31).
Die hoogtepunt van die verhaal oor die twyfelende Tomas se ontmoeting met die opgestane Jesus is wanneer hy Jesus met dié bewoë uitroep herken: “My Here en my God!”
Met dié woorde erken en aanbid Tomas nie net vir Jesus as Here van sy lewe nie, maar hy gee hom ook opnuut in geloof oor aan Jesus se sorg en liefde. Hy bely: “Van nou af is my lewe weer in u hande. U is my toevlug en my hoop, want sonder U kan ek nie leef nie.”
In sekere sin is dit waartoe die evangelie ons elke dag wil beweeg – om in Christus as ons Heer en Redder te glo, om ons lewe aan Hom toe te wy en om aan sy woorde en beloftes vas te hou.
Miskien het jy dit nie opgemerk nie, maar nêrens in hierdie verhaal word uitdruklik vermeld dat Tomas toe wel sy vingers in Christus se wonde gesteek het nie. Eintlik was dit nie nodig nie. Want wat hom tot nuwe geloof en oorgawe beweeg het, het reeds met die woorde van sy mededissipels begin. En dan natuurlik met Christus self wat Tomas opgesoek en met hom begin praat het.
Tereg skryf Okke Jager: “Só verskyn Jesus aan Tomas: in die kerkmense wat hom aan sy arm trek en sê: ‘Kom saam!’ … Jesus verskyn in húlle, in hulle prediking. ‘Julle het die Woord,’ sê Hy. ‘As julle dit nie glo nie, sal julle ook nie glo as iemand uit die dood opstaan nie.’”
Christus se woorde, dikwels by monde van ander, is inderdaad genoeg.
Here, dankie vir u woorde van genade en liefde wat vandag weer genoeg is om ons in ons uur van twyfel te dra. Amen.
Carel Anthonissen