Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek (2 Timoteus 3:16).
ʼn Vriend wat weet, maak die ander dag met groot stelligheid en opgewondenheid die opmerking dat ons vasteland se minerale rykdomme oneindig is.
Boonop is baie daarvan nog glad nie gekarteer of ontgin nie.
Sy opmerking het my laat dink aan ʼn soortgelyke ervaring wat ek dikwels het wanneer ek die Bybel begin lees. Ook hier het ons met ʼn ryk en onontdekte landskap te doen – ʼn landskap vol stories, gesegdes, wyshede, briewe, gebede, en so meer, wat ons lewe oneindig kan verryk en verras.
Geen wonder nie dat iemand die Bybelse verhaal en veral die boodskap wat dit bevat “The greatest story ever told” genoem het. Dit is duidelik: Dié persoon het die rykdom van die Bybelse verhaal persoonlik ontdek en ontgin.
Die Bybelse verhaal werp bevrydende lig op ons lewe en wys selfs vir ons die weg na ʼn ryker en meer vervulde bestaan aan. Wat beskamend is, is dat ons meestal daaraan verbyleef. Soms weet ons nie eens dit bestaan nie.
Weliswaar is dit nooit te laat om hierdie Boek oop te slaan en die verrassende rykdomme daarvan (opnuut) te ontdek nie. Om veral te ontdek dat dit ʼn merkwaardige troos en krag bevat.
Dat dit ons kan help om ʼn regte en gesonde leefwyse te kweek.
Here, dankie vir die verhale van die Bybel waardeur U vandag weer met ons praat. Help my om dit opnuut te ontdek. Amen.
Carel Anthonissen