Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word (Prediker 12:13)
Onlangs skryf iemand vir my die volgende brief om verskoning te vra oor ʼn afspraak wat hy gemis het.
“Vergewe my maar asseblief, my lewe is ietwat deurmekaar. Dikwels is dit die belangrike dinge wat agterbly en die dringende dinge wat voorrang kry. Ek wil dit graag probeer verander.”
Die brief raak aan ʼn dilemma waarvoor ons almal dikwels te staan kom. Dit is dat ons toelaat dat ons werkverpligtings – wat altyd so dringend lyk – ons interaksie met ander mense en veral ʼn stil tyd met onsself en ons Skepper – wat áltyd belangrik is – verdring of verswak.
Natuurlik kan dit dikwels nie anders nie, veral as daardie berig, voorlegging, begroting of verslag môre móét klaar wees. En as daar regtig nie nou tyd is vir ander afsprake of gesprekke nie.
Dié soort keuses is begryplik. Tog raak dit gevaarlik en afbrekend wanneer jou werk ʼn soort afgod word. En jou werkroetine ʼn sieldodende patroon word waaraan jy toenemend sukkel om te ontsnap. Een wat jou meedoënloos voortjaag, jou onvergenoegd maak en jou ook laat kla: “My lewe is deurmekaar. Ek wil dit graag probeer verander.”
Dan het dit tyd geword om weer stil te word en na woorde soos dié te luister: “Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word” (Prediker 12:13).
Here, gee my vandag die vermoë om te onderskei tussen dit wat dringend en dit wat belangrik is. En gee my die moed om wat belangrik is as ʼn prioriteit vir my lewe te kies. Amen.
Carel Anthonissen