Maar ek, ek het in my angstigheid gedink ek is afgesny, weg uit u gesigsveld. Nogtans het U my smeekgebed gehoor, toe ek na U om hulp geroep het (Psalm 31:23).
Ek ken iemand wat, anders as die meeste ander mense, die wonderlike gawe het om volkome rustig te raak wanneer die een of ander krisis haar tref.
Hoe gelukkig is sy nie! Die meeste mense wat ek ken se reaksie is gewoonlik presies die teenoorgestelde. Wanneer onverwagte krisisse hulle tref, styg hulle spanningsvlak hemelhoog en die angs slaan met groot felheid toe. In so ʼn mate dat hulle maklik kop verloor en alles deur ʼn donker bril begin sien.
Die vraag is: Hoe oorkom ʼn mens hierdie angs? Hoe raak jy rustiger en positiewer wanneer alles skynbaar uitsigloos is?
Maklike antwoorde hiervoor bestaan nie. Die ervaring leer ons juis dat oormatige angs moeilik bedwing word. Dit kan ons dikwels juis dieper in die gat van depressie en wanhoop aftrek. Dit kan ons ook die gevoel gee dat ons uit God se gesigsveld verdwyn het.
En tog … tog mag ons as gelowiges nooit volkome wanhopig raak nie; ons moet bly hoop op verligting, bly vertrou dat die Here ons smeekgebede kan en sal hoor. En dat daar wendinge en uitkomste kan kom waar ons dit die minste verwag.
Ook hieroor is daar tallose getuienisse. Luister gerus weer na Psalm 31:23.
En glo my, ook jy kan ʼn getuie daarvan word!
Here, ek is angstig. Hoor tog my klag en my smeekgebed. Maak my rustig. Kalmeer my. Gee my weer u vrede. Amen.
Carel Anthonissen