“Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie, hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matteus 6:26).
Ek het ʼn kollega wat my altyd hartlik groet met dié woorde:
“May the bluebird of happiness flap her wings a thousand times over you.”
In sy groet glim daar altyd ʼn bietjie luim, maar ook ʼn stukkie erns. Met sy groet, so het ek hom nog altyd verstaan, wil hy die eerlike hoop uitspreek dat my lewe altyd vol geluk en aangename verrassings sal wees.
Sy groet sinspeel op ʼn lied van die bekende tenoor Jan Peerce, “The bluebird of happiness”. In dié lied hoor ons onder meer hierdie woorde:
“If things don’t look so cheerful, just show a little fight. For every bit of darkness, there’s a little bit of light, for every bit of hatred, there’s a little bit of love … And so remember this, life is no abyss. Somewhere there’s a bluebird of happiness.”
Weliswaar is dié beeld van ʼn blou geluksvoël hoogs sentimenteel. Tog herinner die lied en my vriend se luimige wens ons aan belangrike waarhede. Die een is dat die lewe beslis nie ʼn donker afgrond is nie. En dat ons in tye van nood en onsekerheid gerus maar kan uitkyk vir God se verrassings in ons lewe.
Want God kan, soos Jesus ons herinner, selfs die wilde voëls van die veld gebruik om ons te troos en ons bekommernisse te besweer.
Here, dankie dat U ons nooit verlaat nie. Dat U veral in tye van nood naby ons is. En dat U selfs die voëls van die veld gebruik as herinnering dat U vir ons sorg. Amen.
Carel Anthonissen