Ek woon in ʼn hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes (Jesaja 57:15).
Die woestynvaders wat in die vierde eeu nC in die woestyn gaan woon het om weg te kom van die oppervlakkige waardes van ʼn magsgedrewe samelewing, het groot wyshede nagelaat.
Daar word vertel dat iemand eendag aan een van die woestynvaders gevra het wat ware nederigheid behels.
Hierop het die woestynvader insiggewend geantwoord: Hy moes bly goeddoen aan dié wat hom te na kom of beswadder. Só sou hy toon dat hy nederig is. Die een wat die vraag gevra het, was nie tevrede nie. Hy wou verder weet: “Maar wat as ek dit nie kan regkry nie? As die opdrag vir my te moeilik is?”
Waarop die ouer man se antwoord was: “Neem dan afstand van hulle, maar waak hoe jy verder oor hulle praat. Die beste is om stil te bly.”
Dit is veral in die laaste sin dat die wysheid van hierdie woestynvader na vore kom. Want sien, vir die meeste van ons is dit gewoonlik maklik om ver van ons sogenaamde vyande te bly staan. Maar om nie verder oor hulle te skinder of lelik oor hulle te praat en hulle so af te takel nie – dit is die kuns; dit is die uitdaging.
Hierin bestaan ware nederigheid – ʼn nederigheid wat hom beroep op God se hulp en krag.
O Here, gee ons vandag die nederigheid wat ons kan help om ook ons vyande te vergewe. Amen.
Carel Anthonissen