As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stilwees en vertroue hê (Jesaja 30:15).
ʼn Bekende woestynvader het op ʼn keer sy broers só aan hulle eiesoortige roeping herinner.
“Net soos wat visse doodgaan wanneer hulle op droë land probeer oorleef,” het hy gesê, “net so sal julle julle lus verloor om in gebed te volhard as julle nie gedurig die woestyn as ʼn plek van stilte opsoek nie.
“Daarom,” het hy vervolg, “net soos die visse moet terugkeer na die see, so moet ons gedurig terugkeer na ons plek van stilte. Daarsonder sal die noodsaaklike sorg vir ons innerlike lewe vergete en verlore raak.”
In ʼn wêreld waarin ons elke dag deur geraas en die sieldodende eise van ons werk en ons verbruikerskultuur verswelg word, is dit ʼn tydige waarskuwing. En ʼn groot uitdaging.
Ons elkeen sal doelgerig vir ons ʼn plek en tyd van stilte moet beplan en bekom. Want feit is, daarsonder loop ons gevaar om innerlik te verarm en meer oppervlakkig te raak as waarvan ons noodwendig bewus is.
Here, gee ons vandag weer u rus, leer ons die waarde van stilte – daar waar U die duidelikste met ons praat. Amen.
Carel Anthonissen