Elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan (Hebreërs 4:10-11).
Al hoe meer mense vandag vergeet watter groot geskenk die Sondag is.
Want sien, met Sondag breek daar ʼn dag in ons week aan waarop ons sonder enige gewetenswroeging of kwelling behaaglik agteroor kan sit en rus van ons werk, van al ons dwingende en meestal uitputtende weeklikse roetines en pligte.
Ongelukkig het die hedendaagse lewe so ontwikkel dat daar vir baie van ons geen onderskeid meer bestaan tussen ʼn gewone weeksdag en ʼn Sondag nie. In baie gevalle het die Sondag verval tot ʼn dag van normale inkopies, sportbeoefening en die inhaal van agterstallige werk.
Nie dat die breuk of verposing wat die Sondag bied nie ook ʼn dag van ontspanning kan wees nie. Tereg het Jesus sy volksgenote destyds daaraan herinner dat die Sabbat, wat ʼn voorafskaduwing van die Christelike Sondag was, juis vir die mens gemaak is – om te rus. En om in dié rus vir God as die goeie Gewer van alles – ook van dié dag – te onthou en te eer en ons medemens te dien.
Die vraag is of ons Sondag nog dié betekenis het. Vier ons dit nog as ʼn geskenk uit God se hand – een wat ons nie alleen liggaamlik nie, maar ook geestelik kan versterk en verryk? Ja, weet ons dat die rus van Sondag juis dáárom gaan?
Of gaan Sondag ook maar, soos baie ander dae, onnadenkend by ons verby?
Here, dankie vir ʼn dag soos Sondag waarop ons kan rus en nadink oor al u gawes. Help ons om die Sondag so te vier. Amen.
Carel Anthonissen