U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis (Psalm 88:7).
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig (Psalm 139:11-12).
Johannes van die Kruis, ʼn Spaanse geestelike, het bekend geword vir sy werk Die donker nag van die siel (The Dark Night of the Soul).
Vir dié wat in ʼn gereformeerde tradisie grootgeword het, klink dié titel dalk uiters vreemd, veral omdat ons, in pas met die Bybelse getuienis, donkerte meestal met die gevolge van sonde assosieer.
Weliswaar het Johannes van die Kruis die donkerte waarin sonde jou kan dompel goed geken. Vir hom was daar egter ook ʼn donkerte wat meer positief was. Hierdie donkerte, só het hy dit gesien, is ʼn onontwykbare en wesenlike deel van ons geloofspad.
In hierdie donkerte, wat meestal deur ervarings van diepe vertwyfeling, angs en worsteling gekenmerk word, kom God self ons tegemoet. Om ons daardeur tot groter insig en suiwerheid van lewe en denke te lei. Hierdie insig of lig breek deur wanneer ons nie die donkerte ontken of probeer ontvlug nie, maar geduldig daarin op God bly wag.
Net soos vir die psalmdigter wat in ʼn stadium geskryf het: “Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar … Vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig” (Ps. 139:8, 12).
Dit is tog iets om aan vas te hou, veral wanneer die donkerte dreig om ons te oorweldig – dat God ook dáárin is.
Here, dankie dat ons vandag kan weet dat ons donkerte vir U lig is. Help ons om dit vandag te onthou. Amen.
Carel Anthonissen