Toe het Hy vir hulle almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou” (Lukas 8:23-24).
In sy boek The Dark Night of the Soul voer Johannes van die Kruis, die Spaanse geestelike, aan dat daar drie redes is waarom die geloofsreis ʼn reis vol donkerte is.
Eerstens is die beginpunt van dié spesifieke reis vol donkerte, want wanneer ons Christus begin volg, so skryf Johannes, vra dit altyd ʼn bepaalde opoffering van ons, ʼn prysgawe van ons belange en selfsugtige begeertes, van ons vele verknogthede en natuurlike liefdes.
Die konkrete inhoud of gestalte van hierdie opoffering sal van mens tot mens verskil. Vir sommige sal dit hulle geld of aardse rykdom wees; vir ander weer hulle drank en dwelms; vir nog ander hulle liefde vir glans en status. Vir die dissipels van Jesus was dit aanvanklik hulle huise, families en beroepe.
Wat hierdie prysgawe of opofferings ook al is, vir almal beteken dit ʼn soort sterfte, ʼn vorm van selfverloëning en daarom die aanbreek van ʼn bepaalde nag of donkerte in hulle lewe.
Gelukkig – dit weet ons ook – is hierdie roeping van Jesus om die donkerte of nag van selfprysgawe te betree altyd omring deur die belofte dat wie hulle lewe ter wille van Hom prysgee en verloor, dit op ʼn wonderbaarlike nuwe manier sal vind.
Daarom kan ons dit maar waag om Hom met oorgawe te volg.
Here, ek erken vandag dat dit swaar is om my natuurlike liefdes en begeertes ter wille van U prys te gee. Help my om vandag weer te sien dat dit die poort tot groter vryheid en geluk is. Amen.
Carel Anthonissen