O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë (Romeine 11:13).
Met sy opdrag dat ons sonder ophou moet bid, het die apostel Paulus natuurlik by implikasie ook geïmpliseer dat ons gedurig aan God behoort te dink.
Maar is dit moontlik? Of moet ons saam met die bekende geestelike Meister Eckardt vra: “Moet ons bekommerd wees as ons dit nie regkry om die hele tyd aan God te dink nie?”
Hierop antwoord hy dan insiggewend en troosvol deur te sê dat om na God te draai nie noodwendig beteken dat ons gedurig aan God sal dink nie. Trouens, vervolg hy, dit is nie net onmoontlik nie, maar selfs onvanpas.
Die rede? Gelowiges behoort nooit tevrede te wees met ʼn God wat alleen maar die objek van ons denke is nie. Want dit sou beteken wanneer ons ophou om aan God te dink, kan God verdwyn. En dit sou nie waar wees nie.
Behalwe dat God ons gedagtewêreld oorstyg, is God op ander maniere wel altyd by ons. Sodat ons, selfs al dink ons nie aan God nie, ja, selfs al bid ons nie gereeld nie, met sekerheid kan weet: God is altyd teenwoordig, altyd naby.
God woon deur sy Gees in ons.
Heilige, ondeurgrondelike God, dankie dat U deur u Gees altyd naby ons is, selfs al kan ons U nie dink of voorstel nie. Amen.
Carel Anthonissen