Boodskap vir Vandag

Search

Om aan te hou eerlik wees

“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matteus 5:8).

ʼn Woord wat in ons tyd weer uiters belangrik geword het, is integriteit.

Volgens die verklarende woordeboek beteken integriteit “onverbloemde eerlikheid”; dit wil sê, ʼn vorm van eerlikheid waarin jou hele lewe – alles wat jy dink en doen – volkome oop, deursigtig en betroubaar is.

Onlangs, as antwoord op haar kind se vraag na die betekenis van hierdie ingewikkelde woord integriteit, voer ʼn ma die woordeboek-betekenis selfs ʼn entjie verder. Haar antwoord? Dit is om aan te hou eerlik wees.

Hierdie aanhou-aspek is belangrik, want ons leef in ʼn wêreld waar die grense tussen leuen en waarheid, bedrog en eerlikheid op vele vlakke vervaag het. En ons maklik, dikwels op maniere wat aanvanklik onskuldig en onskadelik lyk, aan die kant van die leuen en sy tweelingboetie, onbetroubaarheid, kan beland.

Nee, as gelowiges is dit ons blywende roeping om te alle tye eerlik en deursigtig te leef. En daarmee vol te hou, omdat dit die regte en vanselfsprekendste ding is om te doen.

In die Bybel loop integriteit en reinheid van hart ten nouste saam. Veral as ons onthou dat reinheid van hart onder meer beteken dat ons lewe net op een ding gerig is – God en sy wil vir ons lewe.

Want ware eerlikheid spruit uiteindelik hieruit voort.

O Here, suiwer vandag weer ons lewe, rig ons hart en gedagtes op U, sodat ons eerlik en betroubaar sal leef. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.