Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).
Ons vertroue in God se sorg en voorsiening word meestal die heel sterkste in tye van swaarkry getoets.
Want sien, in tye van swaarkry is ons nie net geneig om vas te val in donker gedagtes en negatiewe selfspraak nie. Erger nog, ons vergeet in sulke tye dikwels heeltemal van God. En dat God Hom dalk met ons swaarkry mag bemoei.
Daarom is die vraag wat vir gelowiges voorop moet staan wanneer hulle deur swaar tye gaan, nie allereers: Hoe kan ek so gou moontlik uit hierdie donker plek ontsnap? nie, maar wel hierdie vraag: Waar is God in hierdie donkerte? Waarheen wil God my nou lei?
Wie dié vraag met erns vra, ontdek dikwels dat hulle tye van swaarkry ʼn onmisbare leerskool word. ʼn Tyd wat weliswaar nie lekker is nie, maar waarop hulle later met dankbaarheid en selfs verwondering kan terugkyk.
Omdat hulle, soos Paulus, ontdek en geleer het dat alles, ook hulle lyding en swaarkry, ten goede kan saamwerk.
En hulle hierdie beproewende ervaring, hoe ironies dit ook al klink, vir geen geld in die wêreld sou wou mis nie.
Here, vergewe ons dat ons U vergeet in ons oomblikke van angs, paniek en swaarkry. Help ons deur u Gees om in sulke tye met groter oorgawe en ywer na U te soek. Amen.
Carel Anthonissen