Ek is soos ʼn swart kraai in die woestyn; ek het geword soos ʼn naguiltjie op puinhope. Ek lê wakker; ek het geword soos ʼn eensame voël op ʼn dak (Psalm 102:7-8).
Een van die gevolge van siekte, veral wanneer dit kronies en langdurig is, is dat dit ons wêreld oornag kan laat inkrimp en verklein.
Met siekte word ons lewe gewoonlik uitgeruk uit die polsende stroom van die alledaagse lewe en ingeperk tot die eng en benouende ruimte van ʼn steriele hospitaalkamer of ʼn enkelbed by die huis.
Iemand het eenmaal in ʼn goedbedoelde gebed hierdie ingeperkte lewe van die sieke verwoord toe hy gebid het dat die Here tog moet dink aan hulle wat aan hulle siekbed vasgepleister is.
Natuurlik het hy bedoel “vasgekluister” is, want dit is wat siekte aan ʼn mens kan doen. Dit verander jou lewe in ʼn soort kluisenaarbestaan – een waarin jy afgesny is van mense en die groot wêreld daar buite. En waarin die gevoel van alleenheid, broosheid en angs jou nagte kan oorheers en jou ure lank kan laat wakker lê.
Nêrens word hierdie gevoel van broosheid en alleenheid beter verwoord as in Psalm 102 nie. Daar kla die digter dat sy gebeente verskroei word soos in ʼn vuurherd, ja, dat sy hart platgeslaan is en dat hy geword het soos ʼn naguiltjie op puinhope (102:4-7).
Hoe goed tog om te weet dat daar ander was en steeds is wat hierdie ervaring ken. En wat vandag nog vir ons ʼn voorbeeld is van hoe om ons benoude klagtes voor God te bring.
Gaan lees daarom gerus vandag weer Psalm 102 en maak dit jou gebed voor God – die God van wie ons lees dat Hy ons gebed nie sal minag nie (102:18).
Here, hoor tog my gebed. Laat my hulpkreet U bereik. Amen.
Carel Anthonissen