Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ʼn rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop (Psalm 40:3).
ʼn Engelse familielid – ʼn toegewyde en uiters gewilde onderwyseres – het onlangs deur diep waters gegaan.
Eers het sy op ʼn onverwagte en uiters traumatiese manier haar lewensmaat verloor. Hierna het sy, grootliks as gevolg van haar verlies, in ʼn toestand van depressie beland. Sy is vir behandeling in ʼn psigiatriese inrigting opgeneem.
Sy is egter ʼn sterk mens en het ná etlike weke weer opgestaan, haar kop opgetel en na haar werk teruggekeer.
Die trane sit nog vlak toe ek haar onlangs vra hoe dit nou met haar gaan. Tog is die ou sprankel skielik terug toe sy van haar herstel begin vertel – ʼn proses wat sy beskryf as die herwinning van “the normal pieces of my life”. Dit is die terugkeer na die normale en vertroude dele van haar lewe, dinge soos haar werk, haar huis en haar vriendskappe.
As gelowige erken sy vandag, soos die psalmdigter, dat sy dit nie self sou kon regkry nie. Op ʼn wonderbaarlike manier, bely sy, het die Here haar mettertyd met die hulp van ander mense uitgetrek uit die modder van pyn en verlies en haar voete weer op hierdie vaste en bekende grond laat staan. Iets waarvoor sy vandag oneindig dankbaar is.
Ek wonder of jy weet dat dit ook vandag kan gebeur met jou wat so reddeloos voel.
Here, moet my tog vandag nie uitsluit van u ontferming nie. Laat u liefde en trou my gedurig bewaak en my voete weer op vaste grond laat staan. Amen.
Carel Anthonissen