Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In die hart van Christus begrawe

So moet julle dan julleself beskou as dood vir die sonde, maar in Christus Jesus lewend vir God (Romeine 6:11, Direkte Vertaling).

Die Romeinebrief kan tereg gesien word as Paulus se hooglied op die genade wat God in Christus aan ons bewys het.

Oor en oor in hierdie diepsinnige maar gloeiende brief besing Paulus die triomftog van God se genade. Hoe God mense soos ons, wie se lewe meestal om ons selfsugtige projekte en drome draai, deur Christus bevry het om vir ʼn hoër doel te gaan leef – vir sy koninkryk van liefde en geregtigheid.

En dit het God uit vrye guns alleen gedoen. Gewoon omdat God goed is.

As mense wat deel in Christus se dood en opstanding, so jubel Paulus in Romeine 6, is ons nou dood vir die sonde van selfsug en vry om voortaan vir God te leef.

In die woorde van ʼn ou wyse geestelike: Die God van genade het ons ganse verlede in die hart van Christus begrawe, en Hy is meer as gewillig om vir ons toekoms te sorg.

Wat beteken dat dit wat werklik saak maak in hierdie lewe nie soseer ons prestasies of sukses is nie, maar wat ons bereid is om elke dag in nederige dankbaarheid te ontvang.

Here, dankie dat U reeds alles gedoen het sodat ons sinvol kan leef. Help ons om elke dag van u genade te leef. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.