Maar ook ons wat die Gees ontvang het, as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God bekend sal maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het (Romeine 8:23).
In Romeine 8 is daar ʼn oorgang wat die wenkbroue kan laat lig.
Paulus spring in hierdie brief weg en vertel in sewe hoofstukke hoe God in Christus die mag van die sonde en die dood oorwin het. Sodat ons nou – en hieroor jubel Paulus in Romeine 8:1-17 – met sekerheid deur sy Gees kan weet dat ons vrygemaakte kinders van God is.
Op die oog af lyk hierdie versekering na ʼn hoogtepunt – byna soos die top van ʼn berg wat ons bereik het en waar ons nou kan rus in dié wete: Ons is nie meer slawe nie, maar kinders van God wat sonder vrees na God as ons Vader mag roep.
Maar vanaf Romeine 8:18 jaag Paulus ons as’t weer op wanneer hy die tema van lyding ter sprake bring – lyding wat nie net die skepping nie, maar ook óns lewe raak. Sodat ons steeds sug en daarna verlang dat God bekend sal maak dat Hy ons wel as sy kinders aangeneem het. Asof dit nie reeds gebeur het nie.
Hoe moet ons hierdie teenstrydige uitsprake van Paulus verstaan?
In antwoord hierop het die teoloog Willie Jonker destyds ʼn troosvolle antwoord gegee. Daar is ʼn verskil tussen wie ons is wanneer ons Christus begin volg en wie ons gaan wees wanneer God eendag met ons klaar is. Op hierdie weg tussenin ly ons nog onder allerlei dinge, verlang en sug ons dat God dit duideliker sal maak dat ons aan Hom behoort.
Vir my was Jonker se uitspraak nog altyd van groot hulp. Nie net omdat sy woorde klop met wat Paulus wou sê nie, maar ook omdat dit ooreenstem met ons geloofervarings. Boonop gee dit aan ons die vryheid om te sug wanneer dinge te veel word, wetende daar is ʼn God wat luister.
Here, dankie dat U met ons op weg is en ons nooit sal verlaat nie, selfs al voel dit party dae so. Amen.
Carel Anthonissen