Die Gees staan ons in ons swakheid by; ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Romeine 8:26).
In Romeine 8 herinner Paulus ons daaraan dat nie alleen die skepping rondom ons sug in die pyne van afwagting nie …
Ons wat reeds die Gees as eerste gawe ontvang het, ons sug ook.
Hoe goed ken ons dit nie! Daardie dae wanneer alles skeefloop. Ons senuwees gaan op hol, die ongeduld en selfs woede bereik breekpunt. En uiteindelik kan ons maar net sug.
Hoe goed om by Paulus te hoor dat ook dit deel van die gelowige se lewe is. Dat daar by hom ook tye van swakheid was waarin hy nie meer geweet hoe of wat om te bid nie. En alleen maar kon sug.
Tog het Paulus nie opgehou sug nie. Want hy het geweet: Wie hulle versugtings opreg tot God rig, kan op iets verrassend en wonderlik reken. En dit is dat die Gees van God wat ons swakhede deur en deur ken ons versugtings sal optel en as egte gebede na God toe sal dra.
Trouens, in sekere sin begin alle egte gebed altyd by hierdie verlange en versugting na God. In die woorde van Karl Barth: “This little sigh contains it all. And it all comes back to this little sigh. There is no art in prayer, only the simple fact that God’s children may pray, may cry to God.”
Het jy dit gehoor? Jou moedelose gesug, ja, jou angstige verlange na iets beter, is reeds ʼn gebed in God se ore.
Here, vandag sug ek weer. Maar dankie dat U wat ons harte ken, ook my gesanik aanhoor en deur u Gees tot egte gebed omvorm. Amen.
Carel Anthonissen