“Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore en ek het hom teruggekry.” Toe het hulle begin feesvier (Lukas 15:24).
Vanoggend lees ek hierdie aangrypende waarheid …
Terwyl ons wegdwaal van God af, selfs in so ʼn mate dat ons totaal van God vergeet, bly die Bybelse boodskap waar dat God steeds, ja, op hierdie oomblik, na ons bly soek.
En dat sy mond steeds hierdie merkwaardige en troosvolle woorde bly spreek: “Selfs al weet jy dit nie, is jou lewe vir My ʼn bron van oneindige vreugde.”
As daar een verhaal in die Bybel is wat hierdie waarheid glashelder aan ons oordra, is dit die gelykenis van die verlore seun. In hierdie verhaal word dit duidelik hoe die vader, terwyl die jong seun hom verlaat en in ʼn ver land gaan woon het, met brandende liefde op sy seun bly wag het. Ja, ʼn mens sou jou dit selfs kon voorstel hoe die vader in sy gedagtes en drome voortdurend na sy seun bly soek en verlang het.
En toe die seun op ʼn dag uit die niet verskyn, hardloop die pa hom nie net met uitbundige vreugde tegemoet nie. Dan word dit ook duidelik met hoeveel trots en blydskap die vader hom nog altyd bejeën het.
Ek wonder of jy weet dat jou lewe, hoe onseker en deurmekaar dit ook al is, vir God jou Vader ʼn bron van blydskap is. Wie dit weet en glo, sal ontdek dat hulle lewe nooit in ʼn doodloopstraat is nie.
Here, dankie dat my lewe, hoe deurmekaar ook al, vir U ʼn bron van blydskap is. Maak dié wete vandag ʼn impuls tot nuwe toewyding. Amen.
Carel Anthonissen