Wees goedgesind teenoor alle mense (Romeine 12:17).
Een van die vrugte van die Heilige Gees se werk in ons lewe is vriendelikheid (Galasiërs 5:22).
Die implikasie hiervan is dat ons, soos Paulus ons in Romeine 12:17 vermaan, goedgesind en daarom ook vriendelik teenoor alle mense behoort te wees.
Om dit reg te kry is egter nie altyd so maklik nie. Mense, veral dié wat van jou verskil of wat soveel anders is as jy, kan jou maklik irriteer of afstoot. Ander kan jou openlik afknou of te na kom. Dan kom die glimlag en die vriendelikheid maar moeilik.
Tog moet ons mekaar daaraan bly herinner dat vriendelikheid sy eie soort belonings meebring. Soos vir die egpaar wat onlangs in ʼn nuwe woonbuurt ingetrek het. Die mense daar is bekend vir hulle afsydigheid teenoor vreemdelinge. En tog het hierdie egpaar binne enkele maande die goedgesindheid van die hele buurt gewen.
Hulle was self verbaas daaroor. Wat hulle nie besef het nie, was wat ʼn groot impak hulle vriendelike en innemende geaardheid op mense gehad het. Vir hierdie egpaar was dit ʼn vanselfsprekende deel van hulle gesindheid en optrede teenoor mense.
Tog het mense dit opgemerk en daaroor begin praat. Soos onlangs weer toe iemand, ná nog so vriendelike ontmoeting met hierdie egpaar, hulle agterna gestaar en opgemerk het: “Daar het jy nou ʼn lewende bewys van hoe dit ʼn mens loon om vriendelik te wees.”
Boonop – en kom ons sê dit weer vir mekaar – kos dit so min om vriendelik te wees, al is dit net deur ʼn glimlag.
Here, gee ons vandag weer die gawe van geduld en vriendelikheid. Dit kos so min en kan so ʼn groot verandering by ander en by onsself teweegbring. Amen.
Carel Anthonissen