Toe die rooidag uitkom, het Samuel al na Saul op die dak geroep: “Staan op! Ek wil ʼn ent met jou saam stap” (1 Samuel 9:26).
Søren Kierkegaard, die bekende filosoof, was daarvoor bekend dat hy baie lief was vir stap. En dat hy elke dag die strate van Kopenhagen, waar hy gewoon het, op dié manier verken het.
Sy liefde vir stap het aangesluit by ʼn diep oortuiging, ʼn mens sou amper kon sê ʼn filosofie, oor die waarde van stap. Dit het hy soos volg uitgedruk:
“Every day I walk myself into a state of well-being and I walk away from every illness. I have walked myself into my best thoughts.”
Gegewe dat Kierkegaard sy lewe lank aan ʼn vorm van depressie gely het, was hierdie obsessie met stap duidelik ʼn onmisbare deel van sy poging om die donker kant van sy lewe te besweer. Maar, soos hy dit self gestel het, stap het hom ook gehelp om sy kreatiefste gedagtes – en daar was ʼn magdom hiervan – te ontsluit en te verhelder.
Daar is natuurlik ander maniere om albei hierdie doelwitte te bereik. Maar stap, juis omdat dit ʼn uitdrukking van ʼn rustige leefstyl is, word vandag al hoe meer erken as ʼn belangrike sleutel tot ʼn gesonde en kreatiewe gees.
Maar dan, let wel, moet dit nie ʼn blinde oefening word waar ons, soos baie vandag, met oorfone in die ore ronddwaal nie. Inteendeel, dit moet juis ons ore en oë oopmaak vir die wonders van die natuur rondom ons.
Ook vir die ritme van ons eie liggaam en die roerings in ons siel waar God se Gees met ons besig is.
Here, wanneer alles so dol en haastig word, leer my opnuut die waarde van stap. Sodat u Gees my oë en ore vir u teenwoordigheid kan oopmaak. Amen.
Carel Anthonissen