Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra (Filippense 2:15-16).
Behalwe vir ʼn ongesonde grootheidswaan, is daar ʼn verdere rede waarom sekere mense die lewe en ander mense meer aggressief benader. Dit selfs geniet om voortdurend met hulle te stry en te baklei.
Dit hang dikwels direk saam met die konteks of omgewing waarin mense grootgeword het, met die invloed en voorbeeld van hulle ouers en vriende. Daar is ʼn spreekwoord wat die bepalende belang van hierdie invloed mooi verwoord. Dit lui: “When I open my mouth, my mother comes out.”
In baie gemeenskappe in ons land is dit wat uitkom wanneer die kinders begin praat en optree niks anders nie as die skeldtaal en geweld van hulle ouers – mense wat op hulle beurt in moeilike omstandighede grootgeword het. En dikwels moes veg, selfs hard moes baklei, om te oorleef en hulle waardigheid te behou.
Op dié manier is ʼn kultuur van aggressie, vergelding en baklei oor geslagte heen as enigste leefopsie vasgelê en geïnternaliseer. Daar was geen ander voorbeeld nie. Hoe hartseer dit ook al is.
Die verantwoordelikheid vir mense en veral gelowiges wat in meer ontspanne en bevoorregte gemeenskappe grootgeword het, is in dié opsig geweldig groot. Inderdaad is ons, in Paulus se woorde, geroep om vandag weer ligdraers te wees deur ʼn woord – en voorbeeld – van egte lewe uit te dra, veral aan dié mense wat net aggressie ken.
O Here, gee ons vandag meer begrip vir hulle wat moet baklei vir hulle waardigheid en daaglikse oorlewing. En help ons om deur ons woorde, dade en voorbeeld u Woord van lewe uit te dra. Amen.
Carel Anthonissen