Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gelukkig is my naam nie Koos nie

Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredinge uit … Skep ʼn rein hart vir my, o God … Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u Heilige Gees nie van my wegneem nie (Psalm 51:3, 12-13).

Hoe die mens se dubbelslagtigheid, of verdeelde hart, kan oorhel na die verkeerde kant en in selfbedrog kan eindig, word mooi deur ʼn luimige anekdote geïllustreer.

In hierdie anekdote gaan dit oor ʼn alkoholis wat elke naweek vir homself sê: “Koos, hierdie naweek gaan jy minder drink.” Maar dan, terwyl hy reeds ʼn volgende glasie omhoog hou en skelm maar selfvoldaan grinnik, hoor ons hom onderlangs fluister: “Gelukkig is my naam nie Koos nie!”

Hoewel komies bedoel, het dié verhaal ook ʼn ernstige kant. Nie alleen wys dit hoe mense hulleself op ʼn bykans gelate en jolige manier kan bedrieg nie; dit wys ook hoe mense in een onbewaakte oomblik hulle identiteit, gekoppel aan hulle naam, kan verloën of prysgee.

Want Koos is, na sy mening, op daardie oomblik nie meer Koos nie.

Glimlag gerus oor Koos en sy streke, maar onthou dat sy verhaal die verhaal van baie mense is – mense wat hulleself langs die pad verloor het en nou wanhoop aan die toekoms.

Miskien is jy een van hulle. Weet dan dat dit nooit te laat is om jou, soos Dawid van ouds, na God te keer nie. Ja, waarom nie sommer nou Psalm 51 as ʼn gebed tot God rig nie?

Here, wees my vandag weer genadig in u troue liefde. Skep in my ʼn rein hart. En laat u Gees nie van my wyk nie. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.