“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind” (Matteus 10:39).
Daar is verskillende maniere om die pad van geloof te beskryf.
My geestelike begeleier het dié pad dikwels vergelyk met ʼn spiraal wat geleidelik na onder kring. Só wou sy my daaraan herinner dat ons lewe voor God ʼn herhalende patroon het, maar een wat bedoel is om algaande, danksy God se genade, dieper en inniger te word.
Presies soos die na onder gerigte en dus dieper kringende spiraal.
ʼn Mens sou die pad van geloof egter ook kon vergelyk met ʼn soort opgang in die lewe, byna soos ʼn leer waarteen jy geleidelik na bo klim. Dit was dan ook die beeld wat baie ou kerkvaders gebruik het om die mens se pad na God te beskryf.
In aansluiting by dié beeld sien Gregorius van Nyssa hierdie weg as sporte van ʼn leer waarop die verlange na God, namate ons hoër klim, al dieper en intenser word. Totdat dit uiteindelik aan die einde van ons lewe eindig in die liefdevolle arms van God self.
Hierdie opgang, so herinner die kerkvader Benedictus ons, het egter min te make met die bekroning van menslike sukses of mag. Soos in Christus se lewe, is dit ʼn pad van toenemende deemoed en nederigheid. Ons opgang en groei as mense is immers altyd innig verweef met ons gewilligheid tot nederige diens en offervaardige liefde.
Só kry ons deel aan die grootste paradoks van die lewe – een wat Jesus soos volg beskryf het: Wie hulle lewe om sy ontwil verloor, sal dit uiteindelik vind.
Here, lei ons vandag weer op u pad – die pad waarop ons deur nederige diens nader aan U kan kom. Amen.
Carel Anthonissen