Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Waarop jy fokus, sal vir jou energie gee

Terwyl ons dan so ʼn groot skare van geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:1-2).

Ek het ʼn vriend wat baie jare lank die slagoffer van die sogenaamde drankduiwel was.

Danksy hulp van buite en die herontdekking van die geestelike dimensie van sy lewe, het hy die afgelope jare ʼn pad uit hierdie donker labirint van verslawing gevind.

Vandag gee hy raad aan ander wat met soortgelyke probleme sukkel. Hy doen dit deur middel van ʼn paar baie praktiese en konkrete riglyne, ʼn soort padkaart vir die lewe – een wat jou bowenal kan help om dit wat uniek en besonders aan jóú lewe is, te herontdek en dit voluit, met nuwe energie en polsende hoop, te omarm.

Onlangs het hy ʼn praatjie gehou waartydens hy twee belangrike insigte gedeel het. Dit lui:

“What we think about and focus on has huge attractor influence on our energy.”

En dan: “What we resist persists and what we focus on expands.”

Sy uitsprake is ʼn lewensbelangrike herinnering waarvan die Bybel ons ook reeds bewus maak. Soos die Hebreërskrywer dit stel: Wie die voorbeeld van die getroue gelowiges navolg (Hebreërs 6:12) – ook volhardend die oë en aandag op Christus, ja, op sy wel en weë vestig (12:1-2) – kry nie net nuwe energie en hoop nie; hulle lewe sal ook oneindig verruim en verdiep word.

Sy Gees wat in ons werk, waarborg dit.

O Here, help ons vandag weer om ons oë op U te bly vestig. En ons gedagtes in u woorde te bly drenk. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.