Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ʼn stil plek toe en rus ʼn bietjie” (Markus 6:31).
In Markus 6:30-31 kry ons ʼn prentjie van Jesus waaraan ons minder gewoond is, maar een wat uiters belangrik en betekenisvol is.
Ons hoor hier dat Jesus weens allerlei omstandighede moeg en uitgeput was.
Eerstens moes Hy die dissipels se vele stories oor hulle sending aanhoor (Markus 6:30). Daar was boonop ʼn groeiende skare wat Hom net nie alleen wou los nie. Trouens, so erg was die gedrang en die gepaardgaande aansprake dat Jesus en sy dissipels nie eens vir ete kon rustig raak nie (6:31).
Voeg hierby die onverwerkte skok en hartseer van Johannes die Doper se wrede dood, dan verbaas dit ons geensins dat Jesus in dié omstandighede wou wegkom om op ʼn stil plek te gaan rus nie. Want Jesus was moeg.
Wie na hierdie menslike kant van Jesus kyk, kan maklik dink dat dit Jesus se aanspraak op goddelike gesag en mag ophef. Tog is presies die teenoorgestelde waar. Sy menslikheid verdiep hier juis die misterie van sy goddelikheid. En dit bied ons ʼn verrassende blik op die andersheid van God sy Vader.
Aangrypend stel die teoloog Debie Thomas dit: “These glimpses of Jesus’ human life take nothing away from Jesus’ divinity: they enhance it, making it richer and all the more mysterious. They remind us that the doctrine of incarnation truly is Christianity’s best gift to the world. God – the God of the whole universe – hungers, sleeps, eats, rests, withdraws and grieves. In all of these mundane but crucial ways, our God is like us. Our God rests.”
Ja, in en deur sy menslikheid – so getuig Jesus se lewe – is God nie alleen sóós ons nie, maar ook bý ons – altyd. Ook wanneer ons moeg en moedeloos word.
Wat ʼn troos om dít te weet.
Here, wat ʼn troos om te weet dat U tydens u aardse lewe ook moeg was. En daarom verstaan wanneer ons moeg word. Amen.
Carel Anthonissen