Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het (Galasiërs 6:5).
In Johannes 6, waar ons lees van die vermeerdering van die brood en vis, vind ons ʼn patroon in die vertelling van die verhaal, ʼn patroon wat eie aan die Evangelieskrywer Johannes is.
Eers vertel hy van Jesus se wonderdaad of teken (6:1-15); kort daarna stel hy Jesus aan die woord om hierdie daad of teken te verduidelik (6:22-40). Hierdie verduideliking was meestal daarop gemik om die skare te onderrig oor wie Jesus is en waarvoor Hy aarde toe gekom het.
Dus, om sy ware identiteit en opdrag te verklaar en te staaf.
In ons lewe lê ons gewoonlik groot klem daarop dat ons woorde, veral sekere beloftes wat ons gemaak het, deur ons dade en optrede bevestig en bekragtig moet word. Hoe betroubaar ons as mense is, word dikwels aan ons dade gemeet.
Maar dit werk ook andersom, soos ons hier by Jesus sien. Ons woorde behoort ook kongruent met ons dade te wees. Wat beteken dat wanneer ons iets doen, ons dit te alle tye met betroubare en toepaslike woorde moet kan toelig of verklaar – woorde wat mense kan glo en wat hulle in sekere omstandighede selfs kan troos.
Dit is selfs nog belangriker wanneer ons oortree het: dat ons woorde nie ons wandade sal probeer toesmeer of verontskuldig nie, maar eerlik, waar en betroubaar sal wees.
Wat ons doen, maak saak. Maar wat ons daaroor te sê het, hoe ons daaroor praat, hoe ons dit verduidelik, is dikwels nog belangriker.
Dit weet almal wat al in ʼn hof hulle saak moes stel.
O Here, help ons vandag om eerlik te leef, sodat ons dade nie net ons woorde sal bevestig nie, maar ons woorde ook ons dade as betroubaar sal staaf. Amen.
Carel Anthonissen