Toe hy hom weer kom kry, skud ʼn engel hom wakker en sê: “Word wakker! Eet!” (1 Konings 19:5).
Toe Elia in 1 Konings 19 op moedverloor se vlakte beland, voel dit – ten minste vir hom – asof die einde van sy lewe aangebreek het.
Asof sy gees finaal geblus en sy toekoms afgesluit is.
Waarmee hy nie rekening gehou het nie, was dat die God van sy voorgeslagte steeds naby, ja, rondom hom was. En dat hierdie God hom steeds nodig gehad het vir sy planne met sy volk.
Daarom hierdie nuwe wending in die verhaal, wanneer God opnuut na Elia uitreik. En wanneer God opdaag, is dit nie allereers met die een of ander sedeles of gewigtige opdrag nie. Nee, God begin by dit wat basies is – by dit wat Elia in daardie stadium die nodigste gehad het.
Kos vir sy moeë liggaam.
Tot twee maal, so lees ons, word Elia deur ʼn engel wakker gemaak en beveel om te eet en te drink. Want die pad wat voorlê, sou lank en moeisaam kon raak. Hierna, lees ons, het Elia opgestaan, geëet en gedrink – en met die krag van die kos kon hy veertig dae en nagte tot by die berg Horeb stap.
Miskien is dit ook waar jy vandag moet begin as jou gees moeg geword en jou kragte getaan het – staan op en eet gesond. Ja, sien raak dat God jou vandag weer só wil voed: liggaamlik. Sodat jy nuwe energie vir die pad vorentoe kan kry.
God stuur soms selfs mense om jou hiermee te help en by te staan. Maar dan moet jy wakker word en hulle as engele van God herken.
Here, dankie dat U nie net ons dorstige siele versorg nie, maar ook ons moeë liggame voed. Vergewe ons dat ons hierdie voorreg dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Amen.
Carel Anthonissen