Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou is die Here julle lig. Leef as kinders van die lig (Efesiërs 5:9).
Een van die ou mites waarmee die geheime en die gang van ons geskiedenis oor eeue heen beskryf en verklaar is, is dat dit ʼn konstante stryd tussen goed en kwaad, tussen lig en donkerte behels.
ʼn Verdere aspek van dié siening is dat die mens in die loop van die lewe aan een van dié twee kante leef of stry. Deur wat mense doen of sê, bevorder hulle óf die saak van die lig óf die saak van die donkerte.
Hierdie stryd of spanning wat ons geskiedenis kenmerk, aldus die bekende mite, is natuurlik heelwat ingewikkelder.
Tereg het Alexander Solzhenitsyn, die Russiese skrywer, ons daaraan herinner dat hierdie stryd of grens tussen lig en donkerte nie net uiterlik bestaan nie, maar ook deur die binneste van elke mens loop. Boonop wissel en verskuif die lyn of grens afhangende van watter keuses ons elke dag maak. En watter dinge of invloede ons toelaat om ons gedrag te bepaal.
Wat onder meer beteken dat ons nie noodwendig elke dag so goed en respektabel is as wat ons dink nie.
Dit is dan ook spesifiek teen dié agtergrond dat ons vandag weer Paulus se oproep aan die Efesiërs vir onsself moet hoor. Dit is dat ons kinders van die lig is – mense oor wie se lewe die bevrydende lig van Christus se liefde, vergifnis en aanvaarding reeds voluit en permanent skyn. En dat ons elke dag opnuut sal kies om ons weg te keer van die donkerte en in dié vriendelike lig te gaan leef.
Alleen só, herinner Paulus ons, word ons lewe vrugbaar en versprei dit, soos Christus se lewe, ʼn aangename geur (Efesiërs 5:2, 9).
Lei, vriendelik’ Lig, deur aardse duisternis, lei U ons vandag weer voort. Amen.
Carel Anthonissen.