Beproef wat vir die Here aanneemlik is. Ja, moenie deel hê aan die onvrugbare werke van die duisternis nie; stel dit eerder aan die kaak (Efesiërs 5:10-11).
Om God se geregtigheid te soek en só as kinders van die lig te lewe, beteken, veral in óns konteks, natuurlik veel meer as net om aalmoese aan die armes uit te deel.
Hoewel hierdie vorm van gunsbetoning nie nagelaat mag word nie, moet dit aan die ander kant ook altyd met onderskeidingvermoë gedoen word. So nie kan ‘n mens, ondanks goeie bedoelings, die behoeftiges ongesond afhanklik hou en selfs in ‘n bepaalde vorm van kwaad sterk.
Nee, om soekers van ware geregtigheid te wees, beteken óók dat ons sal meewerk dat die sosiaal-politieke, asook ekonomiese sisteme waarin ons daagliks leef, nie uitbuitend nie, maar wel menslik en versorgend sal wees.
Daarvoor is allereers nodig dat ons ons eie plek in hierdie sisteme eerlik en duidelik sal leer ken. En waar dit blyk dat hierdie sisteme onreg bevorder, dit krities te bejeën. Ook as vals en skadelik te ontmasker. Selfs al kos dit ‘n prys.
Op dié manier, om Paulus se woorde te gebruik, help ons as kinders van die lig om die onvrugbare werke van die duisternis aan die kaak te stel.
Die kwelvraag bly natuurlik of ons wat gerieflik binne dié sisteme leef, wel hiervoor kans sien?
O Here, hoe kan ons u geregtigheid soek as ons nie ook die sisteme wat onreg bevorder krities bejeën en help hervorm nie. Gee ons vandag die nodige moed en onderskeidingsvermoë daartoe. Amen
Carel Anthonissen